1 SAMUEL 18

18
Saul word afgunstig op Dawid
1Nadat Dawid met Saul gepraat het, het Saul se seun Jonatan baie geheg geraak aan Dawid. Daar was dadelik ’n band tussen hulle sodat hulle boesemvriende geword het. 2Daardie dag nog het Saul hom saamgeneem huis toe en wou nie toelaat dat hy na sy pa toe teruggaan nie. 3Jonatan en Dawid het toe ’n plegtige ooreenkoms aangegaan omdat Jonatan baie aangetrokke tot hom gevoel het. 4Jonatan het sy mantel uitgetrek en dit vir Dawid gegee. Hy het ook sy wapenrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel vir hom gegee.
5Dawid het toe uitgetrek teen wie ook al Saul hom uitgestuur het. Dawid het dit suksesvol uitgevoer. Daarom het Saul hom oor sy soldate aangestel. Sowel die soldate as Saul se amptenare het dit goedgekeur. 6Toe hulle terugkeer huis toe ná Dawid se oorwinning oor die Filistyn, het die vroue uit al die dorpe van Israel koning Saul tegemoetgegaan. Hulle het gesing en gejubel saam met dansers met tamboeryne en met driesnarige instrumente. 7Die vroue het gesing en gesê:
“Saul het sy duisende verslaan,
maar Dawid sy tienduisende.”
8Saul het gebrand van jaloesie, en die woorde was vir hom ’n belediging. Hy sê toe: “Aan Dawid het hulle tienduisende gegee, maar vir my net die duisende. Al wat hy nog kortkom, is die koningskap!” 9Van daardie dag af het Saul vir Dawid gewantrou.
10Die volgende dag het ’n bose gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak sodat hy in sy huis soos ’n besetene opgetree het. Dawid het weer op die lier begin speel soos hy gewoonlik gedoen het. Saul het egter ’n spies in sy hand gehad. 11Toe gooi hy na Dawid met die spies en dink: “Ek sal Dawid teen die muur vaspen.” Maar Dawid het gekoes, ook vir ’n tweede keer. 12Saul het bang geword vir Dawid omdat die Here by Dawid was, maar vir hom verlaat het. 13Daarom het hy Dawid weggestuur en hom elders as hoof van ’n leërafdeling aangestel.
14Dawid was suksesvol in alles wat hy gedoen het en die Here was met hom. 15Toe Saul dit opmerk, was hy bang vir hom, 16maar die hele Israel en Juda het van Dawid gehou omdat hy ’n suksesvolle aanvoerder was.
Dawid trou met Saul se dogter
17Saul sê toe vir Dawid: “Ek is van plan om my oudste dogter, Merab, vir jou as vrou te gee. Jy moet net jouself bewys en die oorloë van die Here veg.” Saul het gedink: “Ek moet hom nie self doodmaak nie, maar hom eerder teen die Filistyne stuur sodat hulle dit kan doen.”
18Dawid sê egter vir Saul: “Wie is ek en wie is my familie in Israel dat ek die koning se skoonseun sal wees?” 19Maar teen die tyd dat Saul sy dogter Merab aan Dawid moes gee, is sy aan Adriël, die Megolatiet, as vrou gegee.
20Intussen het Saul se dogter Mikal op Dawid verlief geraak. Toe Saul dit hoor, was hy in sy skik daarmee. 21Saul het gedink: “Ek sal haar vir hom gee sodat ek deur haar vir hom ’n lokval kan stel. Die Filistyne sal ook teen hom wees.” Daarop sê Saul die tweede keer vir Dawid: “Jy kan my skoonseun wees!”
22Saul sê toe vir sy amptenare: “Praat met Dawid en sê: ‘Die koning hou van jou en al die amptenare is geheg aan jou. Hoekom aanvaar jy nie die koning se aanbod om sy skoonseun te word nie?’”
23Toe die amptenare so met Dawid praat, antwoord hy: “Dink julle dis so maklik om skoonseun van die koning te word? Ek is maar ’n arm man sonder aansien.”
24Die amptenare van Saul het hom meegedeel wat Dawid gesê het. 25Saul antwoord: “Sê vir Dawid: ‘As bruidsprys wil die koning niks anders hê nie as 100 voorhuide van die Filistyne. Eintlik soek ek maar net wraak op my vyande.’” In werklikheid het Saul gehoop die Filistyne sal Dawid doodmaak.
26Die amptenare het dit vir Dawid vertel en hy het dit goedgevind om so skoonseun van die koning te word voordat die aanbod verstryk het. 27Dawid en sy manskappe het uitgegaan en 200 Filistyne doodgemaak. Dawid het hulle voorhuide vir Saul gebring sodat hy skoonseun van die koning kon word. Saul het toe sy dogter Mikal vir hom as vrou gegee.
28Saul het opgelet dat die Here met Dawid was en dat sy dogter Mikal hom liefhet. 29Daarom het Saul nog banger vir Dawid geword. Saul was lewenslank Dawid se vyand.
30Telkens wanneer die Filistynse heersers vir oorlog uitgetrek het, was Dawid meer suksesvol as enige van die ander bevelvoerders van Saul. So het hy baie aansien verwerf.

Tans Gekies:

1 SAMUEL 18: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid