YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 30

30
1Die woorde van Agur seun van Jake. 'n Belangrike uitspraak.
Die man het vir Itiël gesê, vir Itiël en vir Ukal:
2Ek is meer dier as mens,
ek het nie die verstand van 'n mens nie.
3Ek het nie wysheid geleer nie,
ek ken nie die heilige God nie.
4Wie het na die hemel toe opgegaan en weer afgekom?
Wie het die wind in sy twee hande gevat?
Wie het die water in 'n doek toegedraai?
Wie het die grense van die aarde vasgestel?
Wat is sy naam en wat is sy seun se naam, as jy dit weet?
5Elke belofte van God is betroubaar;
Hy beskerm dié wat by Hom skuil.
6Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie;
Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as 'n leuenaar.
7Net twee dinge vra ek van U;
moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf:
8moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie;
moet my nie arm maak of ryk nie,
gee my net die kos wat ek nodig het,
9sodat ek nie te veel het en U verloën
en sê: “Wie is die Here?” nie,
en sodat ek nie arm word en steel
en my God se Naam oneer aandoen nie.
10Moenie 'n slaaf by sy eienaar beskinder nie;
dalk vervloek die slaaf jou en moet jy die gevolge dra.
11Daar is 'n soort mens wat sy vader vervloek
en vir sy moeder nie 'n goeie woord het nie,
12'n soort mens wat homself as rein beskou,
maar van wie die vuilheid nie afgewas is nie,
13'n soort mens wat vol hoogmoed,
vol eiewaan is,
14'n soort mens wat koelbloedig en wreed is in sy hebsug
en wat teer op die hulpeloses en armes in die land.
15Die bloedsuier het twee dogters, hulle is “Gee!” en “Gee!”
Daar is drie, nee, vier wat nooit genoeg kry nie,
wat nooit sê: “Genoeg!” nie:
16die doderyk,
die onvervulde begeerte om moeder te word,
grond wat nie deurnat is nie
en 'n vuur wat nooit sê “Genoeg!” nie.
17Die oë van 'n man wat met sy vader spot
en vir wie dit benede hom is om sy moeder te gehoorsaam,
sal uitgepik word deur die kraaie,
opgevreet word deur die roofvoëls.
18Daar is drie dinge, nee, vier wat bo my begrip is,
wat ek nie verstaan nie:
19hoe 'n aasvoël in die lug bly,
hoe 'n slang teen 'n rots op seil,
hoe 'n skip op die diepsee vaar
en hoe die liefde tussen 'n man en 'n meisie werk.
20Die ontroue vrou het haar eie manier:
sy eet en vee haar mond af en sê:
“Ek het niks verkeerds gedoen nie.”
21Daar is drie, nee, vier wat die lewe ondraaglik maak,
wat onuitstaanbaar is:
22'n slaaf nadat hy koning geword het,
'n ongemanierde sot nadat hy hom vol geëet het,
23'n vrou wat eers nie 'n man kon kry nie en toe tóg getroud is,
en 'n slavin nadat sy haar eienares se plek ingeneem het.
24Daar is vier goed in die wêreld wat klein is
maar buitengewone wysheid het:
25miere is nie sterk nie
en tog sit hulle in die somer vir hulle kos weg;
26dassies het nie veel krag nie
en tog maak hulle hulle tuis teen die kranse;
27sprinkane het nie 'n koning nie
en tog trek die hele swerm in formasie;
28'n geitjie kan jy met die hand vang
en tog kry jy hom in koninklike paleise.
29Daar is drie, nee, vier wat statig stap,
wat 'n statige houding het:
30'n leeu, die magtigste van al die diere,
wat vir niks stuit nie;
31'n spoghaan;
'n bokram;
en 'n koning met sy leër by hom.
32As jy verwaand opgetree en jou aangestel het,
of as jy slegte bedoelings het, hou op daarmee.
33As jy melk karring, kom daar botter;
as jy iemand op die neus slaan, kom daar bloed uit;
as jy mense kwaad maak, kom daar rusie.

Currently Selected:

SPREUKE 30: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy