YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 25

25
1Die volgende is ook spreuke van Salomo. Koning Hiskia van Juda se amptenare het dit opgeteken.
2Die eer van God lê in wat Hy verborge hou;
konings se eer lê in wat hulle aan die lig bring.
3Soos die hoogte van die hemelruim en die diepte van die aardbodem,
so kan konings se gedagtes ook nie gepeil word nie.
4As jy die slak uit silwer haal,
kan die smid iets van die silwer maak.
5As jy die goddeloses by die koning wegvat,
kan hy regverdig bly regeer.
6Moet jou nie vernaam aanstel by die koning
en op die plek vir hoë mense gaan staan nie.
7Dit is beter dat hy vir jou sê: “Kom op hiernatoe!”
as dat hy jou laat plek maak vir die vername mense.
As jy iets gesien het,
8moenie te haastig teen jou buurman 'n klag indien nie;
wat sal jy agterna doen as hy jou belaglik maak?
9As jy 'n saak teen jou buurman het,
moenie sê wat iemand jou vertroulik meegedeel het nie:
10dit kan by hom uitkom, en hy kan jou tot 'n leuenaar maak,
en dan kry jy vir goed 'n slegte naam.
11Goue appels wat in silwer gemonteer is,
so is die regte woord op die regte tyd.
12'n Goue ring, goue juwele,
so is die wyse vermaning vir wie wil luister.
13Soos die verkoeling wat in die oestyd deur sneeu gebring word,
so is 'n betroubare gesant vir dié wat hom gestuur het;
hy gee dié in wie se diens hy staan, nuwe moed.
14Miswolke en wind, maar geen reën nie,
so is iemand wat spog met wat hy sal gee en dit nooit gee nie.
15Met geduld kan iemand in 'n magsposisie tot ander insigte gebring word;
met 'n versigtige benadering word weerstand afgebreek.
16As jy op heuning afkom, eet net tot jy genoeg het;
as jy te veel eet, word jy naar.
17Wees spaarsaam met jou kuiers by jou buurman;
as hy jou te veel sien, hou hy naderhand nie meer van jou nie.
18'n Knopkierie, 'n swaard, 'n skerp pyl,
so is 'n man wat vals teen sy naaste getuig.
19'n Seer tand, 'n voet wat meegee,
so is dit om in gevaar staat te maak op 'n onbetroubare mens.
20Iemand wat jou klere van jou afvat op 'n koue dag,
of asyn op bytsoda,
so is iemand wat vir jou liedjies sing as jy treurig voel.
21As iemand wat jou haat, honger is, gee hom iets om te eet;
as hy dors is, gee hom iets om te drink.
22Die Here sal jou daarvoor vergoed,
en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word.
23Die noordewind bring reën,
en agteraf-praat maak mense kwaad.
24Liewer bo-op 'n dak woon
as saam met 'n twisgierige vrou onder een dak.
25Koue water vir 'n moeë mens se dors,
so is 'n goeie berig uit 'n ver land.
26'n Fontein, 'n put waarvan die water vuil en stink geword het,
so is 'n regverdige wat hom tot 'n val laat bring deur 'n goddelose.
27Om te veel heuning te eet, is nie goed nie,
ook nie om eer te bly soek nie.
28'n Stad sonder 'n muur om hom te beskerm,
so weerloos is 'n mens as hy nie selfbeheersing het nie.

Currently Selected:

SPREUKE 25: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy