YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 22

22
1'n Goeie naam is meer werd as groot rykdom,
die goeie gesindheid van ander meer as silwer en goud.
2Voor die Here is ryk en arm gelyk;
Hy het hulle almal gemaak.
3'n Verstandige mens sien onheil kom en vermy dit;
onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor.
4Wie nederig is, dien die Here
en ontvang rykdom, eer en lewe.
5Daar is dorings en strikke op die pad van oneerlikheid;
wie sy lewe wil behou, bly daar weg.
6Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet leef,
en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.
7Die ryke heers oor die arme;
die lener is die slaaf van die man by wie hy leen.
8'n Koning wat onreg saai, sal teenspoed oes;
daar sal 'n end kom aan sy hardvogtige heerskappy.
9Wie mededeelsaam is, word geseën,
want hy gee van sy kos vir arm mense.
10As jy 'n ligsinnige mens wegjaag, hou die rusies op
en kom die getwis en beledigings tot 'n end.
11Wie daarop prys stel om opreg te wees en vriendelik te praat,
het selfs die koning tot vriend.
12Die Here sorg dat die regte insig behoue bly;
Hy sorg dat die woorde van 'n onbetroubare mens geen uitwerking het nie.
13Die lui mens sê: “Daar is 'n leeu daarbuite!
Ek kan doodgemaak word as ek dit buite waag!”
14Die uitnodiging uit die mond van 'n slegte vrou is 'n diep afgrond;
jy val daarin as die Here jou vervloek het.
15Onverstandigheid is eie aan 'n jongmens,
maar 'n pak slae haal dit uit hom uit.
16Wie arm mense uitbuit, verryk homself;
wie aan ryk mense geskenke gee, word self arm.
17Luister goed, luister wat die wyse mense sê;
probeer verstaan wat ek jou wil leer uit wat ek weet,
18want dit is lekker as jy dit ingeneem het
en enige tyd kan weergee.
19Ek onderrig juis vir jóú vandag
sodat jy op die Here kan vertrou.
20Ek skryf vir jou belangrike voorskrifte neer
om jou leiding te gee en die nodige kennis,
21sodat jy die waarheid sal herken, die woorde waarop jy kan vertrou,
en 'n betroubare verslag kan gee as iemand jou stuur.
22Moenie 'n arm mens te kort doen omdat hy arm is nie;
moenie die hulpelose vertrap in die regspraak nie.
23Die Here sal hulle saak behartig
en dié wat vir hulle beroof, van die lewe beroof.
24Moenie maats maak met 'n opvlieënde mens nie,
moenie saamgaan met een wat kort van draad is nie:
25dalk leer jy sy maniere aan
en beland jy in lewensgevaar.
26Moenie een van dié wees wat borg staan nie,
moenie instaan vir ander se skulde nie:
27waarom moet hulle selfs jou bed onder jou uit vat
as jy nie kan betaal nie?
28Moenie grense verlê wat lankal daar is nie,
wat jou voorouers al vasgestel het nie.
29Jy sien self: iemand wat vaardig is in sy werk,
kom in die diens van konings,
nie in die diens van mense sonder aansien nie.

Currently Selected:

SPREUKE 22: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy