YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 46

46
Teen die leërmag van die farao
1'n Woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het. Dit handel oor die ander nasies.
2Oor Egipte. Teen die leërmag van die farao, koning Neko van Egipte, wat in Karkemis aan die Eufraat is waar hy deur koning Nebukadnesar van Babel verslaan is; dit het gebeur in die vierde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia.
3Hou reg die skilde, klein en groot,
ruk op vir die oorlog!
4Span in die perde, klim op die ryperde,
tree aan met helms op, vryf die spiese blink,
trek harnasse aan!
5Hoe is dit dan dat Ek hulle sien skrik en terugval?
Hulle soldate word uitmekaargejaag,
hulle slaan op die vlug
en draai nie weer om nie;
daar is paniek aan alle kante!
sê die Here.
6Selfs nie die vinniges kan wegkom nie,
die soldate kom nie vry nie.
Daar in die noorde,
op die oewer van die Eufraatrivier,
val hulle, slaan hulle neer.
7Wie is dit wat daar soos die Nyl oor sy walle stroom,
wat soos die groot rivier brul?
8Egipte stroom oor sy walle soos die Nyl,
hy brul soos die groot rivier
en sê: “Ek sal oor my walle stroom en die aarde bedek,
ek sal stede wegvee saam met hulle inwoners.”
9Spring, perde! Storm voort, strydwaens!
Trek op, soldate uit Kus en Put,
met skilde gewapen,
trek op, boogskutters uit Lud!
10Dié dag behoort aan die Here,
die Here die Almagtige.
Dit is 'n dag van wraak
waarop Hy Hom op sy vyande gaan wreek.
Die swaard sal oorgenoeg kry,
hy sal dronk word van hulle bloed:
daar is 'n offerfees vir die Here,
vir die Here die Almagtige,
daar in die noordland, op die oewer van die Eufraat.
11Gaan na Gilead toe, Egipte,
gaan haal balsem;
jou baie medisynes help nie,
jy word nie gesond nie.
12Die ander nasies hoor van jou vernedering,
jou smartkrete vul die aarde.
Soldaat na soldaat het geval,
die een het met die ander saam gesneuwel.
Daar wag 'n neerlaag vir Egipte
13'n Woord wat deur die Here aan die profeet Jeremia oorgedra is toe koning Nebukadnesar van Babel gekom het om Egipte aan te val.
14Julle moet dit in Egipte bekend maak,
julle moet dit laat hoor in Migdol,
julle moet dit laat hoor in Memfis en Tagpanges,
julle moet sê:
Staan gereed, maak jou reg,
want die swaard verteer reeds rondom jou!
15Hoe is dit dan dat jou aanvoerders afgemaai word?
Hulle bly nie staan nie, die Here stoot hulle om.
16Hulle bly struikel, hulle val oor mekaar,
en hulle sê: “Staan op, kom ons gaan terug na ons mense toe,
na die land toe waar ons gebore is,
weg van die swaard af wat so wild te kere gaan!”
17Hulle skree: “Daar is die farao, die koning van Egipte,
die grootprater wat sy kanse verspeel het!”
18So seker as Ek leef, sê die Koning
wie se Naam die Here die Almagtige is:
Daar kom iemand wat so magtig is
soos Tabor onder die berge,
soos Karmel aan die see.
19Pak julle bondels vir die ballingskap,
inwoners van Egipte!
Memfis gaan 'n verlate stad word,
verwoes en sonder inwoners.
20Egipte is 'n pragtige jong vers,
maar daar kom 'n blindevlieg uit die noorde.
21Die huurtroepe in Egipte
is soos vetgemaakte kalwers,
maar hulle sal almal omdraai en vlug,
hulle sal nie bly staan nie,
want die dag kom wanneer 'n ramp hulle tref,
die tyd wanneer daar met hulle afgereken sal word.
22Egipte sal sis soos 'n slang en padgee
wanneer die vyand se leërmag aankom,
wanneer hulle soos houtkappers met byle na Egipte toe aankom.
23Hulle gaan sy bos afkap, sê die Here,
al is die bos hoe dig.
Die leër van die vyand is groter as 'n sprinkaanswerm,
die soldate kan nie getel word nie.
24Daar wag 'n neerlaag vir Egipte,
hy word oorgegee in die mag van die volk uit die noorde.
25Die Here die Almagtige, die God van Israel, het gesê: Ek gaan afreken met Amon die god van No, met die farao, met Egipte en met sy gode en sy konings, en met almal wat op hom steun. 26Ek gee hom oor in die mag van dié wat hom wil vernietig, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel en sy onderhoriges. Maar daarna sal Egipte weer bewoon word soos vroeër tye, sê die Here.
Jakob sal weer veiligheid en rus geniet
27Maar jy, my dienaar Jakob, moenie bang wees nie!
Moenie bekommerd wees nie, Israel!
Ek gaan jou red uit daardie ver land,
Ek gaan jou nageslag red
uit die land waar hulle ballinge is.
Jakob sal weer veiligheid en rus geniet,
en niemand sal hom bedreig nie.
28Jy, my dienaar Jakob, moenie bang wees nie,
sê die Here,
want Ek is by jou.
Wanneer Ek 'n einde maak aan al die nasies
waaronder Ek jou verstrooi het,
sal Ek aan jou nie 'n einde maak nie.
Maar Ek sal jou straf soos jy verdien,
jy sal nie ongestraf bly nie.

Currently Selected:

JEREMIA 46: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy