YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 38:14-23

JEREMIA 38:14-23 AFR83

Koning Sedekia het die profeet Jeremia na hom toe laat haal. Die koning het by die derde ingang van die huis van die Here gesit en vir Jeremia gesê: “Ek wil jou iets vra, maar jy moet my die waarheid vertel.” Maar Jeremia het koning Sedekia geantwoord: “As ek dit doen, sal u my beslis doodmaak, en as ek u raad gee, sal u nie na my luister nie.” Sedekia het toe in die geheim 'n eed afgelê en vir Jeremia gesê: “So seker as die Here leef, Hy wat die lewe aan ons gee, ek sal jou nie doodmaak nie en ek sal jou ook nie uitlewer aan die mense wat jou wil doodmaak nie.” Jeremia het vir Sedekia gesê: “So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: As jy uitgaan na die koning van Babel se offisiere toe, sal jy jou lewe red en hierdie stad sal nie verbrand word nie. Jy en jou familie sal bly lewe. Maar as jy nie na die koning van Babel se offisiere toe uitgaan nie, sal hierdie stad oorgegee word in die mag van die Galdeërs en hulle sal dit verbrand. Dan sal jy nie uit hulle mag vrykom nie.” Koning Sedekia het vir Jeremia geantwoord: “Ek is bang vir ons volksgenote wat na die Galdeërs toe oorgeloop het. Die Galdeërs kan my dalk aan daardie volksgenote uitlewer, en hulle kan my dalk aanrand.” Maar Jeremia het vir die koning gesê: “U sal nie uitgelewer word nie. Luister tog na die woord van die Here soos ek dit vir u meegedeel het. Dan sal dit goed gaan met u, en u lewe sal gespaar bly. Maar as u weier om uit te gaan, dit is wat die Here my laat sien het: al die vrouens wat nog oor is in die koning van Juda se paleis, sal uitgelei word na die koning van Babel se offisiere toe, en hulle sal sê: “ ‘Die koning van Israel se beste vriende het hom mislei, hulle het hom omgepraat; hulle het hom van die wal af in die sloot gehelp en hom toe in die steek gelaat.’ “Al u vrouens en al u seuns sal uitgelei word na die Galdeërs toe en u sal nie uit hulle mag vrykom nie, want u sal deur die koning van Babel self gevange geneem word, en hierdie stad sal afgebrand word.”

Free Reading Plans and Devotionals related to JEREMIA 38:14-23

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy