YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 26:1-24

JEREMIA 26:1-24 AFR83

Kort nadat Jojakim seun van Josia koning van Juda geword het, het hierdie woord van die Here gekom: So sê die Here: Gaan staan in die voorhof van die huis van die Here en praat met al die mense wat uit al die stede van Juda kom om in die huis van die Here te aanbid. Jy moet alles wat Ek jou beveel, vir hulle sê. Jy mag nie 'n enkele woord weglaat nie. Miskien sal hulle luister en hulle van hulle verkeerde lewe bekeer. Dan sal Ek die straf herroep wat Ek oor hulle wou bring oor hulle sondige dade. Jy moet vir hulle sê: So sê die Here: Julle moet na My luister en my wil doen wat Ek aan julle bekend gemaak het. Julle moet luister na wat my dienaars die profete sê, my profete wat Ek vroeg en laat na julle toe gestuur het sonder dat julle na hulle geluister het. As julle dit nie doen nie, sal Ek hierdie huis soos Silo maak en Ek sal hierdie stad maak tot iets waarmee al die volke van die wêreld ander vervloek. Die priesters, die profete en die hele volk het Jeremia hierdie dinge hoor sê in die huis van die Here. Toe Jeremia klaar vir die volk alles gesê het wat die Here hom beveel het om vir hulle te sê, het die priesters en die profete en die hele volk hom gepak en gesê: “Jy moet beslis sterf! Waarom tree jy in die Naam van die Here op as profeet en sê dan dat hierdie huis soos Silo sal word en dat hierdie stad verwoes sal word en sonder inwoners sal wees?” Die hele volk het in die huis van die Here om Jeremia saamgedrom. Toe die amptenare van Juda al hierdie dinge verneem, is hulle van die paleis af na die tempel toe. Hulle het by die nuwe poort van die tempel gaan sit, en die priesters en die profete het vir hulle en vir die hele volk gesê: “Hierdie man moet die doodvonnis kry, want hy het as profeet hierdie dinge teen die stad gesê. Julle het dit self gehoor.” Toe antwoord Jeremia al die amptenare en die hele volk: “Die Here het my gestuur om as profeet op te tree teen hierdie huis en teen hierdie stad en om alles te sê wat julle gehoor het. Maar as julle nou goed doen en julle gedrag en optrede verander en luister na wat die Here julle God vir julle sê, sal Hy die straf herroep wat Hy oor julle aangekondig het. Ek is in julle mag. Maak met my wat goed en reg is in julle oë. Onthou net: As julle my doodmaak, sal julle die straf vir onskuldige bloedvergieting oor julle en oor hierdie stad en sy inwoners bring, want dit is so dat die Here my teen julle gestuur het om al hierdie dinge te sê sodat julle almal dit kan hoor.” Toe sê die amptenare en die hele volk vir die priesters en die profete: “Hierdie man mag nie die doodvonnis kry nie, want hy het met ons gepraat in die Naam van die Here ons God.” Daar het ook van die leiers van die land gekom en vir die hele volksvergadering gesê: “Miga van Moreset het in die dae van koning Hiskia van Juda as profeet opgetree en vir die hele volk van Juda gesê: So sê die Here die Almagtige: “Sion sal soos 'n land geploeg word, Jerusalem sal 'n puinhoop word, die tempelberg 'n hoogte vol bossies. “Het koning Hiskia van Juda en die hele Juda toe vir Miga doodgemaak? Het Hiskia nie die Here gedien en om genade gesmeek nie? Het die Here nie die straf herroep wat Hy oor hulle aangekondig het nie? Ons is besig om 'n groot ramp oor ons te bring.” Daar was nog iemand wat in die Naam van die Here as profeet opgetree het, Urija seun van Semaja uit Kirjat-Jearim. Hy het as profeet opgetree teen hierdie stad en teen hierdie land en dieselfde dinge as Jeremia gesê. Toe koning Jojakim en al sy soldate en al sy amptenare hoor wat Urija sê, wou die koning hom doodmaak, maar Urija het dit te hore gekom en bang geword en Egipte toe gevlug. Koning Jojakim het toe vir Elnatan seun van Akbor en die manskappe by hom na Egipte toe gestuur, en hulle het vir Urija in Egipte gaan haal en na koning Jojakim toe gebring. Hy het toe vir Urija met 'n swaard om die lewe gebring en sy lyk in die plek gegooi waar die gewone mense begrawe is. Agikam seun van Safan was aan Jeremia se kant, met die gevolg dat hy nie aan die volk uitgelewer is sodat hulle hom kon doodmaak nie.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy