YouVersion Logo
Search Icon

DANIËL 9

9
Daniël bid om vergifnis vir sy volk; die einde van die verdrukking word aangekondig
1Dit was in die eerste regeringsjaar van Darius seun van Ahasveros. Hy was van geboorte 'n Mediër maar het koning geword oor die Galdese ryk. 2In sy eerste regeringsjaar het ek, Daniël, uit die Skrifte vasgestel dat volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het, Jerusalem sewentig volle jare 'n puinhoop sou wees. 3Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking: ek het gevas, rouklere aangetrek en as oor my kop gegooi.
4Ek het tot die Here my God gebid en bely: “Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. 5Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie. 6Ons het nie geluister na u dienaars die profete nie, wat in u Naam ons konings, ons leiers, ons familiehoofde en die hele bevolking aangespreek het. 7U is regverdig, Here. Dit is onsself wat hierdie ellende oor ons gebring het, oor die mense van Juda, oor die inwoners van Jerusalem, oor die hele Israel, dié wat naby is sowel as dié wat ver is, ver in al die lande waarheen U hulle verstrooi het oor hulle ontrou teenoor U. 8Here, hierdie ellende het oor ons, oor ons konings, oor ons leiers en oor ons familiehoofde gekom omdat ons teen U gesondig het. 9Maar U, Here ons God, bewys barmhartigheid en U vergewe, al was ons opstandig teen U.
10“Ons was nie aan U, Here ons God, gehoorsaam nie, ons het nie volgens u wil gelewe nie, u wil wat U deur u dienaars, die profete, aan ons gegee het. 11Die hele Israel het u wil oortree; hulle het afvallig geword en nie na U geluister nie. Daarom het U die vloek wat met 'n eed bevestig is en wat opgeteken is in die wet van Moses, die dienaar van God, oor ons laat kom. Dit is omdat ons teen U gesondig het. 12U het die woorde wat U in verband met ons en ons regeerders uitgespreek het, in vervulling laat gaan en hierdie groot onheil oor ons gebring. Daar het nog nooit op die aarde so iets gebeur soos in Jerusalem nie. 13Al hierdie onheil het oor ons gekom net soos dit geskryf staan in die wet van Moses; tog het ons, Here ons God, nie ons saak met U reggemaak deur ons van ons sonde te bekeer en in te sien dat U doen wat U sê nie. 14Daarom het U ons hierdie onheil nie gespaar nie maar dit oor ons gebring. Here ons God, U is regverdig in alles wat U doen, ons het nie na U geluister nie.
15“Here ons God, U het u volk deur u groot mag uit Egipte gelei en daardeur u Naam groot gemaak soos dit vandag nog is. Maar ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen. 16Here, U het reddingsdade gedoen, neem tog u toorn en u woede weg van Jerusalem, u stad, u heilige berg, want deur ons sonde en deur die oortredinge van ons voorvaders spot almal rondom ons nou met Jerusalem en met u volk. 17Ter wille van Uself, hoor tog my gebed en smeking, en verskyn tog tot redding van u verwoeste heiligdom. 18Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is. Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid. 19Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. U Naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep.”
20Terwyl ek nog praat en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en by die Here my God pleit vir sy heilige berg, 21terwyl ek nog so aan die bid was, het Gabriël, die man wat ek die vorige keer in die visioen gesien het, by my aangevlieg gekom. Dit was die tyd van die aandoffer. 22Hy het my kom inlig en vir my gesê: “Daniël, ek het gekom om jou deeglik in te lig. 23Toe jy met jou smeekgebed begin het, is daar 'n antwoord gegee, en ek het gekom om dit vir jou te vertel, want God het jou lief. Gee dus ag op wat ek sê, sodat jy die visioen kan verstaan. 24Daar is sewentig tydperke vir jou volk en vir jou heilige stad vasgestel. In dié tyd sal daar aan die goddeloosheid en die sondes 'n einde gemaak word en sal daar versoening gedoen word vir die oortredinge. Dit is die tyd waarin 'n blywende geregtigheid tot stand gebring sal word, waarin die profesie en die visioen tot vervulling sal kom en die tempel heringewy sal word. 25Jy moet nou goed verstaan, vandat die opdrag gegee is dat Jerusalem herstel en herbou moet word, totdat 'n regeerder kom wat deur God uitverkies is, sal sewe tydperke wees. Twee en sestig tydperke lank sal Jerusalem opgebou bly, met strate en verdedigingslote, maar dit sal moeilike tye wees. 26Aan die einde van die twee en sestig tydperke sal 'n regeerder onskuldig doodgemaak word. Die stad en die heiligdom sal verwoes word deur die volk van 'n ander regeerder wat op die toneel sal verskyn. Die einde sal kom soos 'n oorstroming; daar sal oorlog wees tot die einde toe, rampe soos besluit is. 27Dié regeerder sal vir een tydperk 'n vaste ooreenkoms aangaan met die vooraanstaandes en teen die helfte van dié tydperk sal hy die diereoffers en die graanoffers afskaf. Hy sal op die een hoek van die tempel 'n ding sit wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, en dit sal daar staan tot alles verby is. Dan sal oor dié regeerder wat soveel verwoesting aangerig het, losbars wat oor hom besluit is.”

Currently Selected:

DANIËL 9: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy