YouVersion Logo
Search Icon

DANIËL 6

6
Daniël oor sy geloof in 'n leeukuil gegooi
1Darius die Mediër het die koningskap oorgeneem toe hy twee en sestig jaar oud was. 2Hy het besluit om honderd en twintig goewerneurs-generaal aan te stel om oor sy hele koninkryk te regeer. 3Oor hulle was daar drie ministers, van wie Daniël een was en aan wie die goewerneurs-generaal verantwoordelik was sodat die koning se belange behoorlik behartig kon word. 4Hierdie Daniël het deur sy buitengewone bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal dat die koning van plan was om hom oor die hele koninkryk aan te stel. 5Die ministers en die goewerneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie. 6Hulle sê toe vir mekaar: “Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens.”
7Die ministers en die goewerneurs-generaal storm toe by die koning in en sê vir hom: “Mag die koning baie lank lewe! 8Al u ministers en al die goewerneurs, goewerneurs-generaal, raadgewers en administrateurs het met mekaar ooreengekom dat daar 'n koninklike dekreet uitgevaardig moet word. Die dekreet moet baie streng bepaal dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe vir u, U Majesteit, in 'n leeukuil gegooi moet word. 9Stel dan nou so 'n dekreet op en vaardig dit skriftelik uit sodat dit nie verander kan word nie; dit moet onherroeplik wees, 'n wet van Mediërs en Perse.”
10Koning Darius het toe so 'n dekreet uitgevaardig.
11Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank.
12Daniël se vyande het in sy huis ingestorm en hom daar gekry waar hy sy God aanbid en Hom om genade smeek. 13Toe gaan hulle na die koning toe en hou die koninklike dekreet aan hom voor. “U het tog mos 'n dekreet uitgevaardig dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid, behalwe vir u, U Majesteit, in 'n leeukuil gegooi moet word.”
Die koning het geantwoord: “Ja, en dit staan vas. Dit is 'n onherroeplike wet, 'n wet van Mediërs en Perse.”
14Toe sê hulle vir die koning: “Maar Daniël, een van die Joodse ballinge, steur hom nie aan u bevel en aan die dekreet wat u uitgevaardig het nie, U Majesteit! Hy bid nog drie maal per dag tot sy God.”
15Toe die koning dit hoor, het hy baie sleg gevoel. Hy het 'n plan probeer maak om Daniël te red, en toe die son ondergaan, het hy nog steeds geprobeer.
16Toe storm Daniël se vyande weer by die koning in en sê vir hom: “U Majesteit besef seker dat volgens die reg van die Mediërs en Perse geen dekreet of wet wat deur die koning uitgevaardig is, verander mag word nie.”
17Die koning moes toe die bevel gee, en Daniël is gebring en in 'n leeukuil gegooi. Die koning het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red.”
18Daar is 'n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie.
19Die koning is na sy paleis toe en het 'n slaaplose nag deurgebring; hy het niks geëet nie en het niks gedoen om die tyd te probeer verdryf nie. 20Die volgende môre vroeg toe dit lig word, het hy opgestaan en is hy haastig na die leeukuil toe. 21Toe hy naby die leeukuil kom, het hy angstig na Daniël geroep en vir hom gevra: “Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?”
22Toe antwoord Daniël: “Mag die koning baie lank lewe! 23My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U Majesteit.”
24Die koning was baie bly en het beveel dat Daniël uit die leeukuil gehaal moes word. Toe Daniël uit die leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het. 25Op bevel van die koning is die mense wat vir Daniël verkla het, gebring en in die leeukuil gegooi saam met hulle kinders en hulle vrouens. Hulle het nog nie in die leeukuil grond gevat nie of die leeus was op hulle en het hulle verskeur.
26Koning Darius het toe aan al die volke, nasies en taalgroepe wat oor die hele wêreld gewoon het, 'n skrywe gerig: “Voorspoed! 27Ek gee hiermee opdrag dat in my hele koninkryk die God van Daniël gevrees en geëer moet word.
“Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig;
sy koninkryk sal nie vernietig word nie,
sy heerskappy sal nooit eindig nie.
28Hy red en bevry,
Hy doen tekens en wonders
in die hemel en op die aarde;
Hy het Daniël uit die kloue van die leeus gered.”
29Dit het goed gegaan met Daniël gedurende die regering van Darius en die regering van Kores die Pers.

Currently Selected:

DANIËL 6: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy