YouVersion Logo
Search Icon

2 Korintiërs 10

10
Die Here se wapens maak ons sterk vir die geveg
1Ek wil nou ernstig met julle praat. Maar ek doen dit in die gesindheid van Christus, Hy wat nederig en vol deernis teenoor almal is. Daar by julle word mos gesê: “Paulus is so mak soos ’n lammetjie wanneer hy hier is. Maar wanneer hy weg is, is hy verskriklik kwaai in sy briewe.” 2Nou vra ek julle baie mooi: moet asseblief nie maak dat ek regtig kwaai is wanneer ek binnekort na julle toe kom nie. Daardie mense wat vir almal vertel dat ek nie volgens God se wil leef nie, moet veral lig loop. Ek sal nie twee maal dink om hulle voor almal vas te vat oor hulle leuens nie.
3Natuurlik is ons net doodgewone mense, maar ons leef glad nie volgens die reëls van hierdie wêreld nie. Nee, ons is in ’n voltydse oorlog gewikkel om die goeie nuus uit te dra. 4Maar ons wapens is nie mensgemaakte wapens nie. Gelukkig nie! Ons staan in die Here se diens; daarom kry ons al ons wapens by Hom. Daarmee vernietig ons alles wat in die pad van die goeie nuus staan, selfs die heel sterkste vestings van die vyand. Met hierdie wapens vernietig ons elke vals argument. 5Elke hooghartige leuen wat die ware kennis van God probeer verdraai, loop ons met God se wapens onderstebo. En elke gedagte wat deur ons koppe gaan, neem ons gevange en lewer dit aan Christus uit. Ons dink slegs wat Hy wil hê. 6Omdat ons tot die tande toe gewapen is, staan ons gereed om elke stukkie ongehoorsaamheid te straf en daarmee af te reken. En ons gaan dit ook daar by julle kom doen sodra julle geleer het om regtig na die Here te luister.
Geloof is nie ’n kompetisie nie
7Kom ek sê nou sommer reguit vir julle: julle leen julle ore uit aan die verkeerde mense. As julle dan so seker is dat julle aan Christus behoort, moet julle asseblief ’n slag met nuwe oë na my kyk. Weet julle, ek behoort ook aan Hom. Ek is ’n Christen, net soos julle. 8Miskien het ek vroeër ’n bietjie te veel gespog oor die gesag wat die Here aan my gegee het. Maar ek hoef regtig nie daaroor verleë voor julle te staan nie. Die Here het my immers aangestel om julle geloof op te bou. En dit doen ek ook. Ek is nie soos daardie spul vals leraars wat net daarop uit is om julle geloof af te breek nie. Daarom is ek regtig nie skaam oor my optrede nie.
9Maar wag, kom ons gesels eers ’n bietjie oor al daardie praatjies onder julle dat ek julle met my briewe probeer bangmaak. 10Daar by julle word mos gesê: “Paulus se briewe is ernstig en kwaai, maar hy beteken net mooi niks wanneer hy hier is nie. 11Die arme man maak maar ’n swak indruk en sy woorde is net ’n bondel wind. Hy preek ons skoon aan die slaap.” Hoor hier, dis alles leuens. Die mense wat hierdie stories versprei, moet weet dat ek altyd dieselfde is, of ek nou ’n brief aan julle skryf en of ek in lewende lywe daar by julle is.
12Nou ja, ek sal dit nie waag om my te vergelyk met daardie mense wat nou by julle preek en wat so baie oor hulle eie prestasies spog nie. Hulle dink geloof is ’n geestelike kompetisie. Daarom vergelyk hulle hulle gedurig met mekaar om te kyk wie is die beste gelowiges. Dit is dom. Ek sal nooit waag om so iets te doen nie. 13Ek praat net oor die werk wat God my gegee het om te doen, oor niks anders nie. Hy het my aangestel om die goeie nuus met ander mense te deel, ook met julle. 14Ek werk slegs binne hierdie werksterrein waaroor God my aangestel het. En julle val ook binne my werksterrein. 15Daarom kan niemand my daarvan beskuldig dat ek in iemand anders se terrein in Korinte kom inmeng het nie. Ek glo vas dat, soos julle geloof sterker word, ek sommer nog ’n baie groter werksterrein daar by julle gaan hê. 16Want ek wil die goeie nuus nog tot ver anderkant Korinte se grense vir mense gaan vertel. God het daardie gebiede ook afgebaken as deel van my werksterrein. Ook daar sal ek nie in ander mense se werksterrein inmeng nie.
17Die Bybel sê: “As jy wil spog, spog dan oor wat die Here doen.” Al jou eie groot dade waarmee jy so graag spog, tel in elk geval nie voor God nie. 18Nee, al wat saak maak, is dat God met jou lewe tevrede is. Sy goedkeuring is al waarvoor jy moet leef.

Currently Selected:

2 Korintiërs 10: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy