ESTER 3:1-15

ESTER 3:1-15 Bybel vir almal (ABA)

Later het koning Ahasveros vir Haman seun van Hammedata 'n belangrike man gemaak. Haman was van die nageslag van Agag. Die koning het vir Haman 'n belangrike amptenaar gemaak, sy stoel het hoër gestaan as die ander amptenare se stoele. Die koning het gesê al die amptenare in die paleis moet voor Haman buig en hulle moet op die grond gaan lê voor hom. Maar Mordegai het dit nie gedoen nie. Die ander amptenare in die paleis het vir Mordegai gevra: “Hoekom doen jy nie wat die koning gesê het nie?” Hulle het elke dag met Mordegai daaroor gepraat. Mordegai het vir hulle gesê dat hy nie wil buig nie omdat hy 'n Judeër is. Toe Mordegai nie wou luister nie, het hulle dit vir Haman vertel, hulle wou sien of Mordegai sal aanhou om nie te buig nie. Haman het baie kwaad geword toe hy hoor dat Mordegai nie voor hom wil buig nie en dat hy nie op die grond wil gaan lê nie. Maar Haman het gedink dit is nie genoeg om net vir Mordegai te straf nie. Haman het gehoor aan watter volk Mordegai behoort, hy het gehoor dat Mordegai 'n Judeër is. Toe het Haman planne gemaak om al die Judeërs dood te maak in al die lande waaroor Ahasveros regeer het. Haman het gesê sy mense moet die “pur” gooi, dit beteken hulle het lootjies getrek. Hy het dit gedoen in die eerste maand, die maand Nisan, in die twaalfde jaar nadat Ahasveros koning geword het. Hy wou weet op watter dag en in watter maand hy die Judeërs moet laat doodmaak. Die lootjies het gewys die twaalfde maand, die maand Adar. Toe het Haman vir koning Ahasveros gesê: “Daar is 'n volk wat oral tussen ander volke woon in al die provinsies waaroor jy regeer. Daardie volk het ander wette as die ander volke en hulle is nie gehoorsaam aan die wette van die koning nie. Die koning mag hulle nie los nie, hulle mag nie aanhou doen wat hulle doen nie. Koning, as jy dink dit is reg, dan moet jy 'n wet maak om die Judeërs almal dood te maak. Dan sal ek 10 000 talente silwer gee wat jou amptenare by jou ander geld kan bêre.” Die koning het sy seël afgehaal en hy het dit vir Haman seun van Hammedata gegee. Haman was van die nageslag van Agag en hy was die vyand van die Judeërs. Die koning het vir Haman gesê: “Jy mag die silwer hou, en jy mag met daardie volk doen wat jy wil.” Haman het die koning se sekretarisse laat roep op die dertiende dag van die eerste maand. Hy het gesê hulle moet briewe skryf vir die hoof-amptenare van die koning en vir die goewerneurs van elke provinsie en vir die amptenare van elke volk. Hulle het die briewe geskryf en hulle het die skrif van elke provinsie en die taal van elke volk gebruik. Hulle het geskryf wat Haman gesê het. Hulle het geskryf dat die briewe van koning Ahasveros kom en hulle het die seël van die koning op die briewe gesit. Vinnige boodskappers het die briewe geneem na elke provinsie van die koning. In die briewe was geskryf dat die mense al die Judeërs moet doodmaak, al die jongmense en die oumense, al die kinders en die vroue. Die koning het ook gesê dat die mense al die Judeërs se goed moet vat. Dit moes gebeur op een dag, op die dertiende dag van die twaalfde maand, dit is die maand Adar. Die koning het dit besluit en dit moes 'n wet word in elke provinsie. Al die mense moes daarvan weet, sodat hulle gereed kon wees op daardie dag. Die koning het gesê die boodskappers moet gou maak, en hulle het dit gedoen. Toe die mense in die stad Susan hoor wat die koning besluit het, was hulle baie geskok en ontsteld. Maar die koning en Haman het gaan sit en hulle het wyn gedrink.

ESTER 3:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

NÁ hierdie dinge het koning Ahasvéros Haman, die seun van Hammedáta, die Agagiet, groot gemaak en hom verhoog en sy setel hoër gestel as dié van al die vorste wat by hom was. En al die dienaars van die koning wat in die poort van die koning was, het gebuig en voor Haman neergeval; want so het die koning aangaande hom bevel gegee; maar Mórdegai het nie gebuig of neergeval nie. En die dienaars van die koning, in die poort van die koning, het aan Mórdegai gesê: Waarom oortree jy die gebod van die koning? En toe hulle hom dit elke dag sê, en hy nie na hulle luister nie, het hulle dit aan Haman meegedeel om te sien of die handelwyse van Mórdegai sou standhou, want hy het hulle te kenne gegee dat hy 'n Jood was. Toe Haman sien dat Mórdegai nie buig en voor hom nie neerval nie, was Haman met woede vervul. Maar hy het dit vir hom te gering geag om die hand aan Mórdegai alleen te slaan; want hulle het hom die volk van Mórdegai te kenne gegee. Daarom het Haman daarna gesoek om al die Jode wat in die hele koninkryk van Ahasvéros was, die volk van Mórdegai, te verdelg. In die eerste maand, dit is die maand Nisan, in die twaalfde jaar van koning Ahasvéros, het hulle die Pur, dit is die lot, voor Haman gewerp vir elke dag en vir elke maand, twaalf in getal, dit is die maand Adar. Toe sê Haman aan koning Ahasvéros: Daar is een volk wat verstrooid en afgesonderd is tussen die volke in al die provinsies van u koninkryk, en hulle wette is anders as dié van enige volk; ook hou hulle die wette van die koning nie, sodat dit die koning nie pas om hulle te laat begaan nie. As die koning dit goedvind, laat daar dan geskrywe word om hulle te verdelg, en ek sal tienduisend talente silwer afweeg in die hande van die beamptes om dit by die skatte van die koning te voeg. Toe trek die koning sy seëlring van sy hand af en gee dit aan Haman, die seun van Hammedáta, die Agagiet, die teëstander van die Jode. En die koning het aan Haman gesê: Die silwer word jou geskenk; ook die volk, om daarmee te doen soos goed is in jou oë. Toe is die skrywers van die koning geroep in die eerste maand, op die dertiende dag daarvan, en daar is geskrywe net soos Haman beveel het aan die landvoogde van die koning en aan die goewerneurs wat oor elke provinsie was, en aan die vorste van elke volk, aan elke provinsie volgens sy skrif en aan elke volk in sy taal; in die naam van koning Ahasvéros is dit geskrywe en verseël met die seëlring van die koning. En briewe is gestuur met die hardlopers na al die provinsies van die koning om al die Jode te verdelg, dood te maak en uit te roei, die seun sowel as die grysaard, die kindertjies en die vroue, op een dag, op die dertiende van die twaalfde maand, dit is die maand Adar, en om hulle besittings as buit te plunder. 'n Afskrif van die bevelskrif moes as wet in elke provinsie uitgevaardig en openbaar gemaak word aan al die volke, om gereed te wees teen daardie dag. Die hardlopers het haastig op bevel van die koning uitgegaan, en die wet is in die vesting Susan uitgevaardig terwyl die koning en Haman sit en drink; maar die stad Susan was in verwarring.

ESTER 3:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Tyd daarna het koning Ahasveros vir Haman seun van Hammedata die Agagiet vereer en hom bevorder. Hy het hom oor al sy ander amptenare aangestel. Op bevel van die koning moes al die dienaars van die koning wat in die poort van sy paleis was, kniel en aan Haman eer bewys. Mordegai het egter nie gekniel en aan hom eer bewys nie. Die dienaars van die koning wat in die poort van die paleis was, het vir Mordegai gevra: “Waarom oortree jy die bevel van die koning?” Toe hulle dit dag vir dag vir hom vra, en hy hom nie aan hulle steur nie, het hulle dit vir Haman vertel, want hulle wou kyk of Mordegai sou volhard in sy houding. Hy het hulle naamlik laat verstaan dat hy 'n Jood is. Toe Haman sien dat Mordegai nie kniel en aan hom eer bewys nie, was hy woedend. Hy het ook gehoor wat Mordegai se volksverband is, en dit was vir hom nie genoeg om vir Mordegai alleen dood te maak nie: Haman het na 'n manier gesoek om al die Jode, die volk van Mordegai, in die hele koninkryk van Ahasveros uit te roei. In die eerste maand, die maand Nisan, in die twaalfde regeringsjaar van koning Ahasveros, is met die Pur, dit is met die lot, in die teenwoordigheid van Haman beslis om 'n geskikte datum te kry om die Jode uit te roei. Die lot het geval op die twaalfde maand, die maand Adar. Toe sê Haman vir koning Ahasveros: “Daar is 'n volk wat versprei is oor al die provinsies van u koninkryk en wat hulle self apart hou van die ander volke. Hulle gebruike verskil van al die ander nasies s'n en hulle gehoorsaam nie die wette van die koning nie. Dit is nie in die koning se belang om hulle te laat begaan nie. As u dit goedvind, vaardig 'n proklamasie uit om hulle uit te roei. Ek sal dan drie honderd twee en veertig ton silwer lewer aan u ontvangers van inkomste om dit in die skatkis te plaas.” Toe haal die koning sy seëlring van sy vinger af en gee dit vir die vyand van die Jode, vir Haman seun van Hammedata die Agagiet, en sê vir hom: “Die silwer kan jy maar hou en met die volk kan jy maak wat jy wil.” Op die dertiende van die eerste maand is die koning se skrywers ontbied en het hulle alles geskryf wat Haman die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk beveel het: aan elke provinsie in sy eie skrif en aan elke volk in sy eie taal. Die proklamasie is geskryf in die naam van koning Ahasveros en verseël met sy ring. Briewe is met boodskappers gestuur na al die provinsies van die koning met die opdrag dat al die Jode voor die voet uitgeroei moet word, klein en groot, kind en vrou. Dit moes plaasvind op één bepaalde dag, die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar. Verder moes daar op hulle besittings beslag gelê word. Die proklamasie moes in elke provinsie as wet afgekondig word en moes aan alle mense bekend wees sodat hulle op dié bepaalde dag gereed kon wees. Die boodskappers het toe haastig vertrek ooreenkomstig die koninklike bevel. Die proklamasie is uitgevaardig in die vestingstad Susan. Die koning en Haman het toe gaan sit en drink, maar die stad self was in beroering.

ESTER 3:1-15 Die Boodskap (DB)

’n Ruk hierna het koning Ahasveros ’n man met die naam Haman tot eerste minister bevorder. Hy was tweede in bevel van die land, net onder die koning self. Haman was die seun van Hammedata, ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete. Op bevel van die koning moes al sy paleisamptenare voor Haman buig om hulle respek vir hom te wys. Almal van hulle het dit gedoen, behalwe Mordegai. Hy het geweier. Die ander amptenare wou toe by Mordegai weet waarom hy weier om die koning se bevel te gehoorsaam. Hulle het elke dag met hom daaroor gepraat. Toe hy hom nie aan hulle steur nie, het hulle vir Haman daarvan vertel. Hulle wou sien of Haman iets daaraan sou doen, want Mordegai het intussen vir hulle vertel dat hy ’n Jood is. Haman was woedend toe hy agterkom dat Mordegai nie respek het vir hom nie. Daarom het hy besluit om nie net vir Mordegai te straf nie, maar om sommer al die Jode in die Persiese ryk uit te roei. In die eerste maand van koning Ahasveros se twaalfde regeringsjaar, dit is die maand Nisan, het Haman opdrag gegee dat hulle lootjies moes trek (of soos hulle dit genoem het, Purim) om ’n geskikte datum te kry waarop hulle die Jode kon uitroei. Hulle het toe op 7 Maart van die volgende jaar besluit. Haman sê toe vir die koning: “Daar is ’n sekere volk wat reg deur u ryk in al die provinsies versprei is. Hulle gebruike en gewoontes verskil van al die ander volke s’n. Om die waarheid te sê, hulle weier selfs om u wette te aanvaar. Ek dink nie dit is in u beste belang om hulle so te laat aangaan nie. As u dit goedvind, vaardig ’n koninklike bevel uit dat hulle uitgeroei moet word. As u dit doen, sal ek 342 ton silwer vir die ontvangers van inkomste gee om in die koning se skatkis te sit.” Die koning het ingestem, sy seëlring van sy vinger afgehaal en dit vir Haman, die vyand van die Jode, gegee. Hy was die seun van Hammedata, ’n afstammeling van koning Agag van die Amalekiete. “Hou die geld,” het hy gesê, “en doen met die Jode net wat jy wil.” Op 17 April het Haman al die koning se skrywers laat kom en briewe laat skryf vir al die koning se verteenwoordigers, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk. Hierdie briewe was in hulle eie taal en skrif sodat hulle dit kon verstaan. Die briewe is in die naam van koning Ahasveros geskryf en met sy seëlring verseël as ’n teken dat die briewe eg was. Die briewe is toe deur boodskappers na elke provinsie toe geneem met die opdrag om al die Jode uit te roei, oud en jonk, vroue en kinders, almal voor die voet. Hierdie slagting is beplan vir 7 Maart die volgende jaar. Diegene wat die Jode doodgemaak het, het ook die reg gehad om al hulle besittings vir hulleself te vat. Elke provinsie moes ’n afskrif van die brief kry sodat almal dit kon lees en reg kon wees op die beplande dag. Op die koning se bevel is die brief in die hoofstad, Susan, gelees. Daarna is die boodskappers haastig met die briewe weg na die provinsies toe. Die koning en Haman het dit toe met ’n drankie gaan vier, maar die stad self was verbaas en verward hieroor.

ESTER 3:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

’n Ruk na hierdie dinge gebeur het, het koning Ahasveros vir Haman, seun van Hammedata die Agagiet, bevordering gegee. Hy het hom in ’n posisie aangestel wat hoër is as enige van sy ander amptenare. Die koning het bepaal dat al sy amptenare wat in die poort van sy paleis diens doen, voor Haman moes buig om aan hom eer te bewys. Mordegai het egter geweier om dit te doen. Die koning se ander dienaars wat in die poort van die paleis gewerk het, het vir Mordegai gevra: “Waarom oortree jy die opdrag van die koning?” Dag na dag het hulle dit vir hom gevra, maar hy het volgehou om dit te ignoreer. Hulle het dit vir Haman gaan vertel, want hulle wou kyk of Mordegai by sy standpunt sou hou. Hy het ook vir hulle gesê dat hy ’n Jood is. Toe Haman sien dat Mordegai nie voor hom wil buig om hom eer te bewys nie, was hy briesend. Toe hy boonop ook hoor wat Mordegai se volksverband is, was dit nie vir hom goed genoeg om net vir Mordegai dood te maak nie. Haman het na ’n manier gesoek om sommer al die Jode, die volk van Mordegai, in die hele koninkryk van Ahasveros uit te roei. Die lot is die Pur genoem. Dit is voor Haman gewerp in die eerste maand, die maand Nisan, in die twaalfde regeringsjaar van koning Ahasveros, om ’n presiese dag en maand te kry om die Jode uit te roei. Die lot het geval op die dertiende dag van die twaalfde maand, die maand Adar. Haman is toe na koning Ahasveros toe om vir hom te sê: “Daar is ’n sekere volk wat verspreid is in die provinsies van u koninkryk. Hulle hou hulle apart van al die ander volke. Hulle volg ander wette as dié van die ander nasies. Hulle gehoorsaam nie die wette van die koning nie. Dit is nie in die koning se belang dat hulle so lewe nie. As dit vir die koning goed is, maak dan ’n wet om hulle uit te roei. Ek sal 342 ton silwer aan die regeringsamptenare betaal om dit in die skatkis te sit.” Die koning is oorreed. Hy het sy seëlring van sy vinger afgehaal en dit vir Haman seun van Hammedata die Agagiet, die vyand van die Jode, gegee. “Jy kan maar die geld vir jouself hou,” het die koning gesê, “maar maak met hierdie volk soos jy wil.” Die koning se sekretarisse is op die dertiende van die eerste maand laat kom. Haman het beveel dat hulle alles aan die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk moes skryf. Dit was in hulle eie skrif en in hulle eie taal. Die proklamasie is geskryf in die naam van koning Ahasveros en met sy ring verseël. Briewe is met hardlopers uitgestuur na elke provinsie van die koning met die opdrag dat al die Jode geheel en al uitgeroei moes word, oud en jonk, vrou en kind. Dit moes gebeur op die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar. Daar moes dan op hulle besittings beslag gelê word. ’n Afskrif van die proklamasie moes in elke provinsie as wet afgekondig word en moes aan al die volke bekendgemaak word sodat hulle op daardie dag gereed kon wees. Boodskappers het haastig met die koninklike bevel vertrek. Ook in die vestingstad Susan is die proklamasie afgekondig. Die koning en Haman het toe gaan sit om te drink. In die stad Susan was daar groot beroering.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid