1 PETRUS 2:18-21
1 PETRUS 2:18-21 Bybel vir almal (ABA)
Julle wat slawe is wat in die huise moet werk, julle moet gehoorsaam wees aan julle eienaars en julle moet hulle altyd respekteer. Julle moenie gehoorsaam wees net aan die goeie en vriendelike eienaars nie, julle moet ook gehoorsaam wees aan die eienaars wat slegte dinge doen aan julle. Want God is baie goed vir julle as julle niks verkeerd gedoen het nie en julle kry baie swaar en julle is tevrede omdat julle dink aan wat God wil hê julle moet doen. Want as julle geduldig is wanneer mense julle slaan omdat julle sonde doen, dan sal die mense julle nie prys nie, dit is seker. Maar as julle geduldig is wanneer julle swaarkry omdat julle goeie dinge doen, dan sal God goed wees vir julle. God het vir julle gekies om goeie dinge te doen en om swaar te kry, want Christus het ook swaargekry vir julle. So het Hy vir julle 'n voorbeeld gegee sodat julle Hom kan volg.
1 PETRUS 2:18-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIENSKNEGTE, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is. Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly — dit is genade by God. Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle 'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg
1 PETRUS 2:18-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Bediendes, onderwerp julle met die nodige ontsag aan julle werkgewers, of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik. Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees. As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.
1 PETRUS 2:18-21 Die Boodskap (DB)
Julle wat vir ander werk, luister na hulle. Wees goeie werkers en behandel julle meerderes met respek. Dit word nie net van julle verwag as julle werkgewers goed is en julle help nie, maar ook as hulle julle sleg behandel, veral as hulle julle treiter omdat julle Christene is. Wat regtig saak maak, is dat julle liewer maar hierdie onbillike optrede van julle meerderes moet verdra sodat God nie in die gang van sake in die skande gesteek word nie. As julle onder straf deurloop omdat julle verbrou het, het julle dit mos verdien. As julle egter niks verkeerds gedoen het nie en nogtans gestraf word, lyk die prentjie anders. As julle nie dan self lelik begin optree nie, maar die onbillike optrede van julle werkgewer met goeie dade te bowe kom, doen julle iets waarop God trots sal wees.
1 PETRUS 2:18-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Huiswerkers, julle moet die gesag van julle werkgewers volledig aanvaar. Dóén wat hulle vir julle sê – of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik. Dit is immers genade as jy, omdat jy in gedagte hou wat God wil hê, onverdiende houe vat, al maak dit jou seer. Daar is natuurlik geen verdienste daarin as julle die houe vat vir ’n oortreding nie. Om egter die houe te vat wanneer julle goeddoen, dít is iets besonders voor God. Hierdie soort swaarkry maak juis deel uit van dit waartoe God julle geroep het. Christus, wat vir julle gely het, is julle voorbeeld. Volg in sý spore.